
SOPKOMBUIS
Melville Kruisgemeente se sopkombuisbediening is al vir meer as 22 jaar ‘n bediening. Hierdie bediening bou verhouding met persone wat op straat lewe en wat vasgevang is in hulle omstandighede. Verslaafdheid is tipies is ‘n kenmerk van hulle manier om hulle toestande draaglik te maak.
Ons is bevoorreg om vir Mvuyie te hê wat elke Woensdagoggend, getrou gesonde kos voorberei vir die sopkombuis om 16:30. Die bywoning wissel tussen 20 tot 50 manne en selfs vrouens wat kom om te eet.
Woord word deur Pieter Bosch aan hulle bedien. Pieter was jare lank by die hawelose bediening by MES betrokke en hy lê klem op “Weg tot saligheid”. Die Jesusfilm word ook gewys en daar word geleentheid gegee as iemand spesiale gebed benodig. Ons het onlangs ook hande gevat met U-turn hawelose bediening wat al vir langer as 25 jaar in veral Kaapstad groot sukses behaal met programme en projekte om hawelose persone van die straat af te kry en weer deel te maak van ‘n gewone, produktiewe lewe waar hulle ook bydra tot hulle eie en die omgewing se vooruitgang.
Hoe kan JY betrokke raak?
BID: dat harte ontvanklik sal wees sodat die woord wat daar bedien word op sagte goeie grond sal val. Bid ook dat elkeen wat die sopkombuis bywoon ook sal aanmeld vir hulp, sodat reabilitering moontlik is. Bid dat elke knie sal buig en elke tong sal belei dat die Here hulle enigste Hoop is.
KOM NEEM DEEL: enige een is welkom om elke Woensdag om 16:30 te kom help. Daar is geleentheid om te bedien deur ‘n boodskap te bring, hulp met opskep en afdek en ook om op te was. Daar is ook persone nodig om saam met die persone te bid terwyl woord bedien word.
DRA BY: deur donasies en skenkings van vars groente, hoender, vleis en meel.
Getuienis
‘n Pragtige getuienis vanuit die sopkombuis is toe een van ons lidmate hulle hondjie geneem het om te skeer en ‘n persoon wat gereeld by die sopkombuis kom eet, hulle genader het. Hy het hulle herken van die sopkombuis. Hy het getuig dat die werk en bediening by die sopkombuis ‘n verskil in sy lewe maak en dat dit vir hom ‘n groot seën is in sy pad wat hy met Jesus stap.
0 Comments